Wil om te Help

My ouma het altyd gesê: “Elke klein druppeltjie tel.” Jare daarna wonder ek nog steeds elke aand as ek in die bed klim: Tel my druppeltjie? Maak EK ‘n verskil in iemand se lewe?

Jare gaan verby – en snags spook hierdie vraag by my. Op ‘n dag kruis my pad met ‘n op die oog af doodgewone tienerdogter, maar ek kom dadelik agter sy is anders. Sy word deur die omstandighede waarin sy grootword gedwing om te vlug van haar moeder wat verlief is op Mnr. Bottel. Haar vader se naam ken sy nie eens nie. Sy vlug na waar sy dink haar vrede en geluk lê … Dis so hartseer dat sy nie op die skoolbanke sit nie maar dit vir kroegstoeltjies verruil het – om net in die oggendure vir haar hulpelose moeder en sibbe ‘n geldjie te kan neem. Dis nou te sê as sy nie uitgesluit word en noodgedwonge ‘n slaapplekkie vir die nag moet soek nie, maak nie saak by wie of waar nie. So gaan dae en weke verby dat sy skool mis net omdat sy doodeenvoudig te moeg is om skool toe te gaan. Niemand lig ‘n wenkbrou nie, raas net omdat “gisteraand se geldjie bietjie min was” en Mnr. Bottel al hoe duurder word …

Die dogter se storie laat ‘n knop in my keel en ‘n letsel in my maatskaplikewerkershart. Ek dink by myself: Wat as dit my verhaal was? Ek is weer opnuut dankbaar vir my omstandighede en my kinderjare. Ek besef hierdie kind het meer nodig as ‘n kospakkie en ‘n geldjie in die hand. My instink om te help, “verbande op hierdie kind se wonde te sit,” skop in. Hoe gaan ek haar help? Ek wonder …

Op ‘n dag kom die ou siel in hierdie kind met ‘n antwoord: “Tannie Welsyn, ek wil teruggaan skool toe. Ek wil koshuis toe.”Ek besef weer eens hoe desperaat hierdie kind moet wees om weg te kom van haar omstandighede, mense wat haar bloed is, wat haar so seermaak dat sy skool en koshuis as haar enigste uitweg sien. Ek skuif my fokus weg van ‘n sisteem wat haar gefaal het na ‘n gemeenskap wat ‘n kind, hiérdie kind, kan red. Solidariteit Helpende Hand en die gemeenskap vat hande om hierdie kind te vang.

Vandag, ‘n paar maande later, is hierdie besonderse dogter hoofdogter van haar koshuis en amper klaar met haar skoolloopbaan. Na jare vind ek en hierdie dogter geluk en vrede.

Partykeer, net soms, kry ons ons antwoorde op die vreemdste plekke … Ons is waar ons MOET wees.

Ek het gewonder … Maar nou weet ek ek maak ‘n verskil!