Roeping

Werk of roeping? Ouerskap of roeping? Mentor of roeping? Kan ons dit waarmee ons in ons daaglikse lewe besig is regtig skei van roeping? Is ons nie juis geroep om te doen wat ons moet doen daar waar ons geplaas is of heen gestuur word nie?

Terwyl ek hier sit en tik, is daar aan my linkerkant ‘n prokureur besig om met passie en oortuiging met ‘n kliënt oor die foon te praat, en agter my sit twee jong mammas met pasgebore babatjies elkeen in ‘n stootwaentjie en gesels met soveel opwinding oor die nuwe hoofstuk in hulle lewens. Elkeen deel hul storie met passie, maar dit is duidelik dat daar ook uitdagings is. Om geroep te wees, kom met uitdagings. Jona het nie verniet weggevlug van Nineve af nie.

Wanneer ek aan roeping dink, kom die storie van Samuel by my op waar die Here hom roep maar hy nie besef dat dit God is nie en vir Eli vra hoekom hy hom geroep het. Eli antwoord dan dat hy moet teruggaan en as hy weer hoor dat hy geroep word, moet hy antwoord: “Praat, Here, want U dienaar luister.”

Is dit nie ook maar so in ons elkeen se lewe nie? Ons voel soms dat ons by ‘n projek of ‘n organisasie of selfs net ‘n individu moet betrokke raak of ‘n hand uitsteek, maar ons maak die gedagte af aan alledaagse dinge en dink aan ‘n rede hoekom ons dit nie eintlik moet doen nie. Dit is so maklik om aan redes te dink om nie betrokke te raak nie, soos: Wat gaan ander dink? Ek het nie eintlik tyd nog daarvoor ook nie. Of selfs dat ek my werk of besigheid se naam in gedrang stel as ek betrokke raak.

Kolossense 3:23 sê vir ons: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie …”

As jy na jou werk, rol of posisie in die samelewing kyk, daar waar jy tans is, dan is jy ook daar geroep – geroep om God te verheerlik in alles wat jy doen. Om net jou deel te doen, is al klaar nie maklik nie. Die lewe stel soveel eise aan ons; wat nog te sê om dit met oorgawe en “van harte” te doen. Nou raak dit eers moeilik. Of dalk word dit so ‘n bietjie makliker wanneer ons besef dat ons dit nie vir ons self doen nie en dat ons geroep is om dit te doen, want die Here het ons daarvoor gekies.

God het vir ons elkeen ‘n plan waar Hy ons wil gebruik om goeie werke te doen en so ook ander te beïnvloed sodat sy Naam verheerlik kan word.

Mag die rol wat jy in jou gemeenskap en samelewing speel vir jou ook ‘n roeping wees. En wanneer jy hoor of voel jy moet optree, antwoord: “Praat, Here, want U dienaar luister.”