Is Piet Tande die Tandemuis van jare gelede terug?

Wie sou nou ooit kon raai dat ‘n mens so opgewonde kan raak en dit oor tande? Nee, ek praat nie van tande bleik of vals tande nie. Ek praat van kind wees toe jy tande gewissel het en in die aand die tand in jou skoen gebêre het vir die tandemuis. En dat jy tot jou groot verrassing nog daarvoor betaal is ook!

Piet Tande is een van Solidariteit Helpende Hand se gelukbringers wat deur die hele land toer om kinders van mondhigiëne bewus te maak. Toe ek hom die eerste keer in lewende lywe sien, het ek eerlik gewonder: Het hy werklik bestaan of nie? Ewe skielik raak ek bewus van herinneringe aan my kinderjare … Wonderlike “ouvroustories” wat ek met baie kreatiwiteit aan my kinders oordra het en wat hopelik na nog baie geslagte oorgedra sal word. Ek onthou daardie seer gevoel in die mond en hoe opgewonde-bang ek my tand, in ‘n sneesdoekie toegedraai, in ‘n skoen by my kamerdeur gesit het. Daardie onsekerheid oor wanneer die tandemuis nou gaan kom, en die gewonder oor hoe die huis lyk wat hy met kinders se tande bou. Daardie gevoel dat jy vandag die rykste kind by die skool se snoepie is, want die tandemuis het ‘n volle R5 betaal vir ‘n tand wat nie eens so wit was soos hy moes wees nie. Ek wonder of die tandemuis toe ryk of arm was?

Vandag gee Helpende Hand my die kans om ‘n stukkie van my kindwees en ervarings met die tandemuis met ander kinders te deel. Snaaks, party kinders ken die tandemuis goed, maar ander het nie ‘n idee wie hy is of wat hy doen nie. Hartseer … Klink ook vir my of die tandemuis deur die jare baie ryker geword het en deesdae selfs blou geldnote in party kinders se skoene los.

Piet Tande, ek kan nie wag om in Mei saam met jou deur die Noordwes-streek te toer nie. Mag ons grootwordstories altyd deel van ons lewens bly, van geslag tot geslag oorgedra word en deel vorm van ons mooiste herinneringe.

Onthou, met skoon, wit tande, ‘n lekker vars asem en ‘n glimlag so breed soos die Here se genade kan ‘n mens enigiets vermag!

Indien jy wil hê Piet Tande moet jou skool in Noordwes besoek, stuur ‘n e-pos na [email protected] of besoek gerus www.piettande.co.za vir meer inligting.

Geskryf deur:

Marna Swanepoel

Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Noordwes-streek

Datum: 4 April 2024