‘n Feëverhaal vir vyf

“Eendag lank, lank gelede …” Dit is hoe die meeste feëverhale begin. Maar hierdie een wil ek graag begin met “Eendag as ek groot is …”, want met hierdie storie hoop ons om hoop en ‘n toekomsvisie te gee vir vyf verlate jong kinders. Vyf kinders wat ongelukkig nie weet wat dit beteken om te droom oor die dag van môre nie, want die lewe se moeilike omstandighede wat min van ons werklik ken, het hulle geleer om elke dag net te oorleef.

Hierdie vyf kinders, met ouderdomme 8 tot 13 jaar, woon in ‘n pleegsorghuis saam met ‘n pleegmoeder. Die huis is vir elkeen van hulle ‘n toevlug, ‘n plek van veiligheid. Dit is die rede waarom ons besluit het om ons streek se DROOM-boekrak projek hier af te skop. Ons hoop hulle sal in hierdie veilige omgewing kan begin stories lees en droom oor môre.

Van reg oor die Noordwes-streek ontvang ons bokse en bokse vol boeke as skenking vir die projek. Opvoedkundige boeke, storieboeke, aktiwiteitsboeke, selfs bordspeletjies en legkaarte – dit alles om die DROOM-boekrak in te rig. Elke kind ontvang ook hulle eie boek wat spesiaal vir elkeen van hulle volgens hulle belangstelling uitgesoek is en elkeen se naam is voor in sy/haar boek geskryf. Hierdie geskenk is vir elkeen van hulle so spesiaal, want dit is party van hulle se eerste besitting, splinternuut, wat net aan hom/haar behoort.

Om die boekrak in te rig, wil ons dit so ‘n bietjie meer spesiaal maak en vir hulle ‘n area skep waar hulle kan sit en ontspan en lees en saam speletjies speel. Ons spring in om die mure te verf en natuurlik is dit na skool die grootste pret om hierdie tannies te help verf! So sien ons elkeen se unieke karakter, pragtig en onskuldig. Daardie aand is die eerste keer wat hulle die boeke op die boekrak sien, en hulle oë is in verwondering. Hulle maak elke boek oop en kyk na die prentjies, want lees is nog nie so maklik nie. In een van die boeke is daar prentjies wat uitspring vanaf die bladsye, en met absolute blydskap roep een: “Tannie, kom kyk! Hierdie prentjie is so mooi en dit lyk so werklik.” Net daar, met daardie woorde en verwonderde oë, het ‘n nuwe wêreld vol avonture en drome ‘n werklikheid geword.