Piet Tande in die Noordwes-streek is een uit ‘n miljoen!

Marna Swanepoel
Maatskaplike werker
Noordwes-streek

Daar is iets besonders aan ‘n muis met ‘n droom. Maar dis nie sommer enige muis nie – dis Piet Tande! Nou kyk, Piet Tande is nou ‘n karakter met ‘n houding! En hy is op ‘n missie …

Buiten vir ‘n kat en ‘n valletjie, is daar niks waarvoor hy skrik nie!

Van motor bestuur, in die Spur (gesonde) kos eet en brei tot diamante delf en selfs klasdraf by die universiteit. So tussendeur leer hy kleuters speel-speel van mondhigiëne en hierdie jaar het hy selfs vir die ouer mense ‘n besonderse boodskap oor selfsorg met sy Vat 5-plan!

Arme Griet het soos gewoonlik haar hande vol met Piet Tande. Hy doen die Tande-dans  1 … 2 … 3… Dis ‘n vreemde kombinasie van ‘n vlos-beweging, briekdans en dan ‘n beweging wat hop soos ‘n perd met tandpyn! Piet en Griet maak ‘n gedugte span. Hulle is twee professionele persone vol selfvertroue met danspassies wat met ‘n Panodo opgevolg moet word! Maar die glimlag op elke kleuter se gesig en die vonkel in elke bejaarde se oë maak dit alles die moeite werd.

Dankie, Piet Tande, dat jy jou werk in die Noordwes-streek in 2025 so besonders en uniek gedoen het!