NOORDWES

NOORDWES

Volkie Spinathon trap vir ’n toekoms: R20 153 ingesamel vir Solidariteit Helpende Hand se studiefondse

Die gees van gee en gemeenskap het helder geskyn toe die eerste Volkie Spinathon op 23 Septbember 2025 plaasgevind het ten bate van Solidariteit Helpende Hand Noordwes se studiefondse. Hierdie fonds bied rentevrye studielenings aan verdienstelike studente om hul studies te kan voortsit — Dis ’n manier om jongmense ’n kans te gee om hul drome te volg – en uiteindelik armoede te help verbreek.

Die byeenkoms, wat by Volkies aangebied is, het gesorg vir hope energie, samehorigheid en natuurlik, heelwat sweet! Plaaslike besighede en skole het hande gevat om die saak te ondersteun deur elk ’n span in te skryf. In totaal het 34 spanne , elkeen met hul eie styl, musiek en aanmoedigers aan die kant het hul deel gedoen om deur hierdie prettige en gesonde manier fondse in te samel.

Deelnemers het beurtelings getrap en mekaar aangemoedig terwyl musiek en vrolike gees die atmosfeer gevul het. Daar was nie net sprake van fiksheid nie, maar ook van ’n ware Potch-gemeenskapsgees, waar mense saamstaan vir ’n groter doel.

Die geleentheid het ’n indrukwekkende bedrag van R20 153 ingesamel. Hierdie bydrae sal direk aangewend word om studente te help wat hard werk vir ’n beter toekoms, maar finansiële steun nodig het om dit te bereik.

Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor elke deelnemer, borg en ondersteuner wat bygedra het om die dag ’n sukses te maak.

Dis wonderlik om te sien hoe ons gemeenskap saamstaan vir opvoeding en ontwikkeling. Elke trap het ’n verskil gemaak.

Die Volkie Spinathon het gewys wanneer Potchefstroom saamtrap, niemand agterbly nie.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie