NOORDWES

NOORDWES

Tannie Tienie is 100!

Deur Suzanne de Swardt

100 Jaar oud! Ons Koster-tak het die voorreg gehad om hierdie besonderse ouderdomsmylpaal van tannie Tienie te vier en die dag saam met die Koster Tuiste vir Bejaardes vir haar en haar familie mooi te maak.

Tyd wag vir niemand nie, en tyd is min. Ons hoor dikwels hoe mense sê dat hulle lewe in ‘n oogwink verby is. Net so het tannie Tienie se 100 lewensjare in ‘n oogwink verloop. 100 jaar = 36 524 dae.

Op haar spesiale dag moet ek ‘n boodskap bring aan tannie Tienie. Ek self ken nie vir tannie Tienie nie, maar dié wat haar ken, praat met die grootste lof van haar. ‘n Omgee-hart wat al baie in moeilike tye versorg het. Aan die opkoms van gaste wat die geleentheid bywoon, kan ‘n mens ook sien dat sy baie geliefd is in haar familie en gemeenskap.

Tannie Tienie is ‘n statige vrou, uitgevat en met knippies in haar hare om die dag saam met ons te vier. Wat hierdie storie nog mooier maak, is dat tannie Tienie se seun, Oom Kobus, op dieselfde dag 81 jaar oud word. Hoe mooi is dit nie dat ma en seun, albei bejaard, mekaar kan vier en die voorreg het om mekaar nog so ‘n bietjie langer te kan vashou nie.

In my binneste wonder ek hoekom sommige mense bevoorreg is om so oud te kan en mag word soos tannie Tienie. Hoe kry sy dit reg om haar jare nog so goed te dra? Matteus 6:28-29 kom by my op: “En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie.”

Tannie Tienie is soos die veldlelies – sy swoeg nie, sy weerspieël vrede; vrede wat simbolies is van lelies. Ons is so geneig om ons oor byna alles te bekommer, en stres is een van die grootste redes vir ‘n verkorte lewe. Hier leer ons weer om ons nie te bekommer nie, want dit kan nie een van ons se lewe verleng nie. Vertroue op ons Hemelse Vader is waar ons vrede lê. So vra ek ook dan die Here hoekom Hy vir tannie Tienie so lank spaar, hoekom sy 100 jaar oud mag word, en Hy antwoord: “Want Ek kan haar nog gebruik.”

Tannie Tienie, 100 jaar oud, 36 524 dae lank al ‘n dienskneg wat ons Hemelse Vader nog kan gebruik.

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie