NOORDWES

NOORDWES

Die heldin van Koster

Gemeenskapsnuus: Leer ken van Helpende Hand se oudste vrywilligers

As deel van Solidariteit Helpende Hand se Vrywilligersmaand in Mei word hierdie menslike stories vertel om erkenning te gee aan die mense agter die werk – vrywilligers wie se toewyding, deernis en volgehoue betrokkenheid die ruggraat van baie gemeenskappe vorm.


*Leona Verster (73), Koster, Noordwes
Die heldin van Koster


In die hart van Koster, waar mense mekaar nog op die naam ken en groet , stap ‘n 73-jarige vrou elke dag met doelgerigte treë – nie omdat sy moet nie, maar omdat sy kies om te gee.

Leona Verster is een van daardie beskeie helde wie se lewe soos ‘n lig van hoop oor haar gemeenskap skyn.

Haar storie begin eenvoudig: ‘n meisie wat haar eerste skooljare in Grootpan deurbring en haar matriek in 1970 aan Koster Gekombineerde Skool voltooi. Dit was ‘n tyd van drome en moontlikhede, maar min kon sy toe voorsien dat haar lewe só verweef sou raak met die mense van haar dorp.

As jong vrou het sy as privaat sekretaresse by die plaaslike koöperasie begin werk – ‘n rol wat haar dissipline en mensekennis geslyp het. Vir byna vyf dekades was sy en haar man, wyle Murray Verster, ‘n apteker op die dorp, steunpilare en ‘n baken van hoop in hulle gemeenskap.

Saam het hulle nie net ‘n huwelik gebou nie, maar ook ‘n lewe van diensbaarheid. Ná sy afsterwe dra Leona steeds die nalatenskap van sorg en betrokkenheid voort – ‘n stille huldeblyk aan die man wat langs haar gestaan het.

Verster is nie iemand wat lank kan stilsit nie. Vir 22 jaar het sy soggens by dr. Albertse gewerk en smiddae in die dorp se apteek. Die afgelope20 jaar, ná dekades van diensbaarheid, werk sy ook soggens by ‘n oogkundige praktyk.

“Ek kan nie heeldag by die huis sit nie,” sê sy eenvoudig, maar agter dié woorde skuil ‘n lewenslus wat nie maklik uitgeblus word nie.

“My gemeenskap is my alles,” sê sy, en ‘n mens glo haar sonder twyfel.

Dit is juis hierdie liefde wat haar in 2021 na Solidariteit Helpende Hand se Koster-tak in Noordwes gelei het. Verster het die nood raakgesien en sy het besluit om iets daaraan te doen.

Vir baie is sy meer as net ‘n helper; sy is ‘n bron van troos, ‘n herinnering dat iemand omgee. Sy deel kos uit, help met projekte, organiseer waar sy kan, en – miskien die belangrikste – bied ‘n luisterende oor.

Wat haar dryf, is nie groot gebare nie, maar die klein oomblikke: ‘n glimlag, ‘n traan van dankbaarheid, ‘n sagte “dankie”. Dit is hierdie oomblikke wat haar bybly, wat haar energie gee om aan te hou. “Dit maak my lewe ryker. Ek voel meer vervuld en dankbaar, en ek besef elke dag hoe geseënd ek is,” sê sy.

Vir haar bring Helpende Hand iets besonders na die gemeenskap: hoop. Nie net fisiese hoop nie, maar ook waardigheid en nuwe moed.

Aan ander wat dalk wonder of hulle ook moet help, het sy eenvoudige raad: “Moenie wag nie. Begin net. Jy hoef nie baie te hê om te gee nie – soms is jou tyd en omgee al genoeg om iemand se lewe te verander.”

Wanneer sy haar eie betrokkenheid in een sin moet opsom, glimlag sy sag en sê:
“Vir my beteken dit om met ‘n oop hart te leef en ander se lewens ‘n bietjie ligter te maak.”

En  dit is presies hoe haar gemeenskap haar ook sien, ‘n vrou wat dag vir dag lig dra waar dit die nodigste is.

Besoek https://helpendehand.co.za/streke/ om as vrywilliger in jou omgewing aan te sluit.


//EINDE

FOTOBYSKRIF: Leona Verster (73)

Uitgereik deur:

Suzanne de Swardt

Streeksorganiseerder: Noordwes

E-pos: [email protected]

Sel: 066 203 7593

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie