NOORDWES

NOORDWES

EngelHarte – want elke hart is kosbaar

Deur: Marna Swanepoel, Maatskaplike Werker: Solidariteit Helpende Hand Noordwes-streek

By Helpende Hand glo ons dat elke persoon waarde het – ongeag hulle omstandighede en uitdagings. Persone met Gestremdhede vorm ‘n belangrike deel van ons gemeenskappe, maar beleef uitdagings ten opsigte van hulle onafhanklikheid, emosionele welstand en lewenskwaliteit.

Daarom fokus die Noordwes-streek hierdie jaar op Persone met Gestremdhede, een van Helpende Hand se kwesbare fokusgroepe. Hulleworstel met:

  • sosiale uitsluiting en eensaamheid;
  • gebrek aan toeganklike dienste en vervoer;
  • emosionele spanning, depressie en angs;
  • stigmas en diskriminasie; en
  • verwaarlosing en mishandeling.

Sentrums vir persone met gestremdhede en families wat hierdie persone versorg, worstel met net sulke groot uitdagings, insluitend emosionele en finansiële uitputting. Daarom is die ondersteuning nie net belangrik vir die persone met gestremdhede self nie, maar ook vir hulle versorgers en ondersteuningsnetwerk.

As maatskaplike werker van Helpende Hand Noordwes-streek sien ek nie net die uitdagings raak nie, maar ook die potensiaal, deursettingsvermoë en unieke bydraes wat ‘n gemeenskap kan lewer. Gemeenskappe kan persone met gestremdhede menslik behandel, hulle bemagtig en insluit.

In 2026 het ons die gemeenskapsontwikkelingsprojek EngelHarte begin met die doel om:

  • te fokus op bewusmaking van gestremdhede en gemeenskapsbetrokkenheid;
  • gemeenskappe te leer om mense met gestremdhede met respek, deernis en begrip te behandel;
  • integrasie, emosionele ondersteuning en menswaardige behandeling te bevorder; en
  • persone met gestremdhede te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik.

By EngelHarte glo ons dat ware ondersteuning begin wanneer mense raakgesien, gehoor en aanvaar word. Elke hart het ‘n storie. Binne-in elke persoon met ‘n gestremdheid is daar ‘n drome, emosies, talente en die behoefte om iewers tuis te hoort. Soms maak ‘n eenvoudige daad van vriendelikheid, ‘n luisterende oor of ‘n ondersteunende hand ‘n groter verskil as wat ons ooit besef. Ons gemeenskappe word sterker wanneer ons mense nie aan hul beperkinge meet nie, maar aan hul menswaardigheid en unieke waarde. Persone met gestremdhede verdien waardigheid, hoop en geleenthede.

Saam kán ons ‘n verskil maak. Met EngelHarte wil Helpende Hand hoop bring vir persone met gestremdhede in die Noordwes-streek. Ons droom van gemeenskappe waar elke mens welkom voel, waar elke stem gehoor word en waar niemand onsigbaar hoef te wees nie.

Want by EngelHarte glo ons: Elke hart is kosbaar!

Word deel van die Solidariteit Helpende Hand familie